Donderdag 25 Mei 2023

1 Johannes 1:1-4
1Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe. 2Die Lewe het gekom; ons het Hom gesien en is getuie daarvan, en ons verkondig aan julle die Ewige Lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is. 3Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan júlle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus. 4Dit skryf ons sodat ons blydskap volkome kan wees.

VRAE:

  • Ons moet eers ons harte bewaak van die verkeerde dinge en fokus op die regte goed. Dan moet ons leer hoe om te luister na ander. Wanneer ons in verhouding is en goed kan luister, sal ons weet wanneer die regte tyd is om ons stories te deel en te getuig. Ons fokus vir die res van die week op hoe getuienis lyk.
  • Die skrywer van 1 Johannes wys vir ons waar om te begin wanneer ons getuig. Ons begin by die Goeie Nuus. Hy begin by God. Wie is die God waarvan hy getuig? Hoe is hierdie God die Goeie Nuus wat ander nodig het? Vir die skrywer van hierdie brief is dit die God wat van die begin af daar was, wat mens geword het en kom wys het hoe lyk liefde in aksie en dit is die waarheid.
  • Wat is die Goeie Nuus van Jesus, vir jou? Wat is die Goeie Nuus van die Vader, vir jou? Wat is die Goeie Nuus van die Heilige Gees, vir jou?
  • Waarom het die wêreld hierdie nuus nodig? Waarom begin ons by wie God is, wanneer ons getuig? Deel jou hart met die Here.

GEBED:
Here, ek wil U loof en prys vir die feit dat U die Goeie Nuus is vir die wêreld. Meer as dit Here, ek wil U prys vir die feit dat U die Goeie Nuus is vir my. Dankie dat U standvastig is, wanneer alles om my skut. Dankie Here, dat U versorg wanneer ek verwaarloos voel. Dankie Here dat U voorsien wanneer ek nie weet hoe nie. Dankie Here, dat U troos wanneer ek swaar kry. Here, U is Goeie Nuus.
Amen

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika