Donderdag 25 November

Psalm 100
Dien die Here met blydskap
1’n Dankpsalm.
Juig tot eer van die Here, almal op aarde!
2Dien die Here met blydskap!
Kom voor Hom met gejubel!
3Erken dat die Here God is:
Hy het ons gemaak en ons is Syne,
ons is sy volk, sy eie kudde.
4Gaan sy poorte binne met dankliedere,
sy tempel met lofsange,
dank Hom, prys sy Naam,
5want die Here is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie,
sy trou duur van geslag tot geslag.

Om oor te gesels en dink:
Psalm 100:5 noem drie redes vir dankbaarheid. Ons kan vir die Here dankie sê omdat Hy goed is. Hy is die bron van ons dankbaarheid. Ons mag partykeer dink dat net as dit met ons goed gaan, dat ons dankbaar kan wees. Hierdie dankpsalm herinner ons dat selfs al gaan dit goed is, is die Here steeds goed. Ons moet onsself hieraan herinner.
Ons is nie dankbaar omdat ons gelukkig is nie, maar ons is gelukkig omdat ons dankbaar is.
Verder is daar geen einde aan die Here se liefde nie. Dit is genoeg rede om ons deur elke dag te dra. God se liefde is nie iets wat ons kan op gebruik nie. Sy liefde vir ons hou aan en aan.
Daarmee saam duur Sy trou van geslag tot geslag. “Hy is ’n goeie God, nou en vir altyd!” (Psalm 100:5 DB)

  • Sê vandag vir die Here dankie vir wie Hy is en nie vir wat Hy vir jou doen nie.
  • Wat beteken dit vir jou dat die Here goed is?

Gebed
Hemelse Vader, dankie dat U altyd goed is. Dankie dat U liefde geen einde het nie en dankie dat U trou vir altyd daar is. Dit oorweldig my om te dink dat U so goed is en met my moeite maak. Dankie! Amen.

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika