Filippense 4:4
“Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!”
Om oor te gesels en te dink
Om vreugde en blydskap te ervaar, is nie net ’n emosie nie. Dit is ’n wete dat ons aan God behoort. Daarom sê die Boodskap dit so treffend: “Julle hart behoort oor te loop van blydskap omdat julle aan die Here behoort. Ek sê weer, julle moet baie bly wees.”
Ons kan blydskap ervaar omdat ons die Here s’n is. Hy is die Een wat ons blydskap gee. Dit laat ons kans sien vir alles in die lewe, die goeie en slegte (vergelyk Fil. 4:13 DB).
Paulus herinner ons ook in Galasiërs 5:22 dat vreugde deel van die vrug van die Gees is. Daarom is dit ’n uitnodiging dat ons vreugde in ons lewe sal nastreef om daardeur ’n getuienis vir die mense om ons te wees.
Gebed
Here Jesus, dankie vir vreugde. Dankie dat ek aan U behoort. Mag ek vandag my blydskap met iemand deel. Amen.