Nehemia 2:4-6
“Toe sê die koning vir my: “Is daar iets wat jy my wil vra?” Ek het 'n skietgebed opgestuur na die God van die hemel en toe vir die koning gesê: “As die koning dit goedvind, as u dienaar op u goedgesindheid mag reken, stuur my na Juda toe, na die stad waar my voorvaders begrawe is, sodat ek die stad kan herbou.” Die koningin het langs die koning gesit. Hy het vir my gevra: “Hoe lank sal jou reis duur en wanneer sal jy terug wees?” Hy was die saak dus goedgesind, hy het my die opdrag gegee. Ek het vir hom 'n tyd aangedui”
Om oor te gesels en dink
Nehemia bid vir wysheid in die oomblik en deel met die koning sy plan. Die pyn wat hy ervaar, deel hy om ’n verskil te gaan maak. Ten alle verwagting reageer die koning positief en wil hy hom help.
Ons is ook party keer in situasies waar ons dink dat dit nie gaan help om te vra nie. Ons kan by Nehemia leer om die Here te vertrou en te bid, al is dit ’n skietgebed. Ons kan ook leer om dit wat ons wil doen met ander te deel. Ander mense kan positief reageer en selfs help. Dit is nodig dat ons ons pyn en planne deel, sodat ander daarmee kan help. Nehemia neem ’n stap in geloof en dit word positief ervaar.
Gebed
Here, ek wil vandag soos Nehemia kom vra vir wysheid. U weet wat in my leef en mag ek dit deel sodat ander my ook kan help. Ek wil ’n stap in geloof neem en U vertrou. Amen.