Donderdag 28 Oktober

Johannes 6:5-14
“Toe Jesus rondkyk en sien dat 'n groot klomp mense na Hom toe aankom, sê Hy vir Filippus: “Waar kan ons brood gaan koop sodat die mense kan eet?” Dit het Hy net gesê om hom op die proef te stel, want Hy het self goed geweet wat Hy gaan doen. Filippus antwoord Hom toe: “Twee honderd mense se dagloon is nie eers genoeg om elkeen van hulle 'n stukkie brood te laat kry nie.” 'n Ander dissipel, Andreas, die broer van Simon Petrus, sê toe vir Hom: “Hier is 'n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense?” Toe sê Jesus: “Laat die mense gaan sit.” Daar was baie gras op daardie plek en die mense het gaan sit. Die mans alleen was omtrent vyf duisend. Daarna het Jesus die brood geneem, God daarvoor gedank en dit uitgedeel aan die mense wat daar gesit het, en net so ook soveel van die vis as wat hulle wou hê. Nadat die mense versadig was, sê Hy vir sy dissipels: “Maak die stukke bymekaar wat oorgebly het sodat daar niks verlore gaan nie.” Hulle het dit toe bymekaargemaak. Daar was twaalf mandjies vol met die stukke wat van die vyf garsbrode oorgebly het nadat die mense klaar geëet het. Toe die mense die wonderteken sien wat Jesus gedoen het, het hulle gesê: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na die wêreld toe moes kom.””
‭‭
Om oor te gesels en dink:
Hierdie is een van Jesus se meer bekende wonderwerke. Mense het Jesus gevolg vir die wonders wat Hy doen, maar Jesus het die wonders gebruik om hulle meer van Homself te leer. Die seuntjie het die bietjie wat hy gehad het, vir Jesus beskikbaar gestel. Deur sy vrywillige bydrae doen Jesus die wonder. Die mense het toe besef dat Jesus werklik die Een was.
Jesus gaan verder en sê in Johannes 6:35: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.”
‭‭Jesus gee Homself vir ons. Elkeen wat aanvaar dat Hy die Seun van God is, het deel aan Hom. ‘n Verdere belofte is: “Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.” (Joh 6:37). Ons kan dus met vrymoedigheid na Jesus toe kom.
‭‭

  • Is Jesus vir jou soos brood wat lewe gee?

Gebed
Here Jesus, ek kom met wat ek het vandag na U en vra dat U my sal gebruik om ‘n verskil te maak. Dankie dat U die brood van die lewe is en U my nooit sal verwerp nie. Amen

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika