Markus 1:35-45
Mense eerste; wees verseker van iemand in nood.
40 Op pad het ’n melaatse man Hom op sy knieë kom smeek: “As U maar net wil, kan U my gesond maak.”
Wanneer laas het iemand jou op hulle knieē gesmeek?
Wat het jy ervaar toe dit gebeur het?
Wanneer laas het jy iemand op jou knieë gesmeek?
Hoe het dit vir jou gevoel?
Ons lewens word daagliks ontwrig deur mense in nood. Ons kan nie daarvoor beplan nie, ons kan nie daarvoor voorberei nie, ons kan dit nie vryspring nie. Ons kan nie vooraf weet wat die persoon/e ons gaan vra nie, ons kan nie vooraf sekermaak dat ons oor dit gaan beskik wat hulle gaan nodig hê nie.
Kyk vir ’n oomblik na die seuntjie in die prentjie: elkeen van ons wat al ’n kind op hierdie ouderdom gesien of gehad het sal weet dat hierdie uitroep om hulp enige tyd en plek kan gebeur. Wat staan ons dan te doen?
Wel, as ons mense eerste stel, soos Jesus gedoen het, dan stop ons. Ons luister. Ons gee aandag. Ons help. Ons gee dit wat ons kan.
Waarom? Want daardeur hanteer ons mense soos mense, soos mense wat in God se beeld geskep is, soos mense wat geskep is vir verhouding en ander nodig het in hulle tyd van nood. Dan hanteer ons mense soos Jesus mense hanteer het.
Is dit makliker gesê as gedoen? Verseker!
Ons lewens is so vol en gejaag dat dit moeilik is om onverwags te stop by iemand in nood.
Ons paaie kruis ook met soveel mense in nood dat ons dikwels oorweldig kan voel daardeur.
Beteken dit dat ons hulp tevergeefs is? Beslis nie! Kyk vir ’n oomblik weer na ons teksgedeelte: Jesus se hulp aan die melaatse man het nie net sy lewe verander nie, maar dit het ’n impak gehad op elke mens wat die melaatse man daarvan vertel het. Elke bietjie, en elke baie, help!
“The real trouble is that ‘kindness’ is a quality fatally easy to attribute to ourselves on quite inadequate grounds. Everyone feels benevolent if nothing happens to be annoying him at the moment. C.S. Lewis