Matteus 4:18-20
“Eendag toe Jesus langs die See van Galilea loop, sien Hy twee broers: Simon, wat ook Petrus genoem word, en sy broer Andreas. Hulle was besig om ‘n werpnet in die see uit te gooi, want hulle was vissers van beroep. Hy sê toe vir hulle: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.” Hulle het dadelik die nette gelos en Hom gevolg.””
Om oor te gesels en te dink
Hierdie week dink ons na oor die Koninkryk van God. Hoe vinnig dit gegroei het, versprei het en dat ons dit nie kan of moet beheer nie. Wat dink jy is jou rol in die Koninkryk van God? As dissipels is ons elkeen geroep. Geroep om aktief deel te neem aan die Koninkryk. Deel te neem aan die groei en verspreiding. In hierdie teks hoor ons die roeping van die eerste dissipels in die evangelie van Matteus. Hoe het jou roeping geklink? Hoe klink jou roeping tans? ‘n Roeping om aktief in die Koninkryk van God te werk?
Gebed
Here, ek skop met tye teen my roeping. Soms is dit omdat ek dink dit te veel tyd sal neem. En met ander kere is dit omdat ek nie dink ek is goed genoeg om gebruik te word nie. Heilige Gees, bevestig my roeping in my eie hart. ‘n Roeping vir U Koninkryk. Amen.