Donderdag 30 Desember

Lukas 2:36-40
36Daar was ook 'n profetes, Anna, 'n dogter van Fanuel uit die stam Aser. Sy was al baie oud. As jong vrou was sy sewe jaar getroud, en na haar man se dood 37het sy weduwee gebly. Sy was nou al vier en tagtig jaar oud. Sy het nie van die tempel af weggebly nie en het God dag en nag gedien deur te vas en te bid. 38Juis op daardie oomblik het sy nader gekom en God gedank en oor die Kindjie gepraat met almal wat na die verlossing van Jerusalem uitgesien het. 39Toe Josef-hulle alles nagekom het wat die wet van die Here voorskryf, het hulle na Galilea toe teruggegaan, na hulle eie dorp, Nasaret. 40Die Kindjie het gegroei en sterk geword, en Hy was vol wysheid, en die genade van God was op Hom.

Om oor te gesels of te dink:

  • Anna het haar hele lewe in die tempel “weggesteek” spandeer. Jesus het sy eerste 33 jaar in ‘n klein dorpie “weggesteek” spandeer. In hierdie “wegsteek” tyd groei hulle in geloof, hulle word sterk, gevul in wysheid en God se guns.
  • Het jy al ooit gevoel asof jy net is? Asof jy nog nie by jou doel in die lewe uitgekom het nie? Dalk is dit ‘n “wegsteek” tyd? Praat met die Here oor waar jy jouself tans bevind.
  • In hierdie tussen “wegsteek” tyd, is jy besig om jouself besig te hou met die Here? Is jy besig om jouself in die Woord te verryk? Is jy besig om in gebed te wandel? Is jy besig om te leer om sensitief te word vir God se stem? Vra vir die Here waar daar tans vir jou geleentheid is om te groei.

Gebed:
Here, leer my die waarde van “wegsteek” gebedstyd.
Here, laat my nooit twyfel oor die waarde van “gemorsde” tyd nie.
Here, help my om ook hierdie “wegsteek” tyd te waardeer.
Here, dankie dat U weet wat ek nou nodig het.
Amen.

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika