Johannes 12:3
Toe het Maria 'n halfliter egte, baie duur nardusolie gebring en dit op Jesus se voete uitgegiet en sy voete met haar hare afgedroog. Die hele huis is deurtrek met die geur van die reukolie.
VRAE:
- Maria het Jesus gesalf met duur nardusolie. Sy moes hard gewerk het vir daardie olie. Sy het met haar geskenk Jesus gesalf en aan Hom eer bewys. Net so bring die werk wat ons doen eer aan God. Maar die winste van ons werk kan ook gebruik word om God te eer. Die manier hoe ons werk en die vrug van ons werk kan soos ‘n heerlike geur die wêreld verryk.
- Wat is die vrug van jou werk? Hoe word jou werk beloon? Dink aan meer voorbeeld as net salaris. Hoe is elkeen van die belonings vir jou ook ‘n geleentheid om God te eer? Hoe beleef jy die vrug van jou werk? Deel jou hart met die Here.
- Hoe praat jy oor jou werk? Hoe praat jy oor die vrug van jou werk? Hoe sou mense om jou getuig van die vrug van jou werk?
- Hoe seën jou werk ander mense? Hoe eer jou werk die Here? Deel jou hart met die Here.
- Hoe kan jy teenoor ander getuig deur die werk wat jy doen? Hoe kan hulle die soet geur van Christus met ander deel? Hoe kan ander ook aangemoedig word om Christus te eer deur die werk wat jy doen?
Kunswerk: Maria Oosthuizen – The Sweet Smell
https://www.houseofmaria.co.za/collections/a3-prints-only/products/mpp19028-the-sweet-smell?variant=39946473144418
GEBED:
Here, ek beleef U as my Here, my Redder en my Verlosser. Ek beleef die voorreg wat ek het om U te kan dien by my werk. Ek is so dankbaar vir die vrug wat my werk voortbring. Here, ek weet ook dat ek dit weer kan gebruik om U naam groot te maak. Here, help my om so te praat, dink en op te tree sodat ander die soet reuk van Jesus se liefde kan beleef. Here, mag alles wat ek doen U eer. Here, mag U opgehef word in alles wat ek doen. Ook met die vrug wat my werk bring. Gebruik dit tot eer van U naam.
Amen