Matteus 5:38-48
44 Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, 45 sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. 46 As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag? (Mat. 5:44-46)
Om oor te gesels:
Jesus gaan voort om in die Bergrede oor verhoudings te praat. Mense het gedink dat jy maar mense kan terugkry as hulle iets aan jou gedoen het en dat jy jou vyande kan haat. Jesus kom wys en gee ’n nuwe opdrag. Ons moet ons vyande liefhê en vir hulle bid.
Dit is egter moeilik, maar ons kan begin deur te bid dat die Here ons harte verander om met ’n nuwe gesindheid na die mense om my te kyk.
In plaas daarvan dat ek vir iemand kwaad is, of jaloers is, dat ek vir hom/haar sal bid. Vra die Here om jou hiermee te help. Dit bly ’n proses en gebeur nie oornag nie.
Gebed
Here, dit is vir my moeilik om te vergewe.
Here, leer my om te kan bid vir mense wat my te na kom.
Here, leer my om U lief te hê sodat ek my vyande ook kan liefhê. Amen.