Dien – Opbouende Woorde
1 Tessalonisense 5:11
11Praat mekaar moed in en versterk mekaar dan met hierdie woorde, soos julle trouens reeds doen.
Om oor te gesels of te dink:
- Een van die maklikste maniere waarop ons ander kan dien is ook een van die maniere waarop mense mekaar die seerste kan maak. Dit is met die gebruik van woorde. Daar word gesê vir elke kritiese woord is daar 4 opbouende woorde nodig om dit te herstel. As ons na die nuus luister is die berigte gevul met slegte nuus. Die hoeveelheid goeie wat ons benodig om balans terug te bring amper ondenkbaar. Jesus het mense Goeie Nuus gegee. Die vroeë Christene het vir mense Goeie Nuus gegee. Vandag kan ons ook vir ander Goeie Nuus gee.
- Hoe lyk opbouende woorde vir jou? Watter behoefte dink jy het ander as dit kom by opbouende woorde? Hoe voel jy oor opbouende woorde? Watter verskonings gee jy gewoonlik waarom jy nie iemand anders se behoefte aan opbouende woorde nie voldoen nie? Waarom het opbouende woorde so ‘n seldsame handeling geword? Waarom is dit makliker om te kritiseer en te wys op wat ander verkeerd doen? Deel jou hart met die Here.
- Diens voorstel vandag: Ons gaan na die gemeenskap kyk vandag. Doen ‘n hart-aanval (kies ‘n huis of sommer ‘n hele straat. Sny klomp harte uit, skryf opbouende woorde en sinne daarop neer en plak dit op die hekke en deure van die huise), gee komplimente vir mense by die kassiere of werk, gee ‘n sin van hoop vir iemand by wie jy verby stap in die winkel of aanlyn byeenkoms.
Gebed:
Here van my lewe,
Help my om U wonderlike geur oral te versprei. Laat my siel oorloop met U Gees en U liefde. Here neem so totaal beheer van my lewe dat al wat mense kan sien is die buitengewone lig wat U skyn deur my. Skyn deur my op so ‘n manier dat elke siel met wie ek in kontak kom U teenwoordigheid sal ervaar. Laat elke mens opkyk na U en net U raaksien. Here, bly asb by my sodat ek kan begin skyn, en deur te skyn, kan ek skyn met ‘n warmte wat die ander wys na U, die ware lig. Here, dit is waarom ek vandag wil dien.
Amen