Maandag 10 Januarie

Markus 1:14-20
14Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. 15Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”
16Eendag toe Jesus langs die See van Galilea loop, het Hy vir Simon en Simon se broer Andreas gesien waar hulle besig was om werpnette in die see uit te gooi. Hulle was vissers van beroep. 17Hy het toe vir hulle gesê: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.” 18Onmiddellik het hulle die nette gelos en Hom gevolg. 19Toe Hy 'n entjie verder gaan, het Hy vir Jakobus seun van Sebedeus, en sy broer Johannes gesien waar hulle in die skuit besig was om hulle nette reg te maak, 20en dadelik het Hy hulle geroep. Hulle het hulle pa, Sebedeus, net so saam met die loonarbeiders in die skuit gelaat en saam met Jesus gegaan.

Om oor te gesels of te dink:

  • Na Jesus se doop is Hy bekend gemaak as God se geliefde Seun. Hy verkondig dat die goeie nuus nou reeds aangebreek het. God wys hoe ware meegevoel en liefde onder die mensdom lyk. Jesus benodig ook hulp met die taak en Hy roep mense om Hom te volg.
  • Ek wonder oor hoe Jesus se persoonlikheid moes uitstraal om die dissipels te oortuig binne sekondes. Nie net te oortuig dat wat Hy hulle voor uitnooi die moeite werd is nie, maar ook dat hulle alles los wat bekend is en Hom volg. Was jy al ooit so oortuig van ‘n saak dat jy alles los en jou lewe verander daarvoor? Wat het jou oortuig? Indien nie, wat sou jy nodig hê om oortuig te word? Deel jou hart met die Here.
  • Waarom het Jesus hulp nodig gehad met die taak waarvoor Hy geroep was? Waarom sou Hy dit nie alleen kon doen nie? Soms doen Jesus dinge, nie ter wille van Homself nie maar vir die mense wat aan Hom toevertrou is. As Hy hulle nie in die reis saam met Hom geneem het nie, sou hulle lewens nie verander geword het nie. Hulle sou steeds hardkoppig gewees het en die punt van die gelowige lewe misgeloop het. Hoe nooi Jesus jou uit vir ‘n reis, wat jy self nodig het? Waar is God besig om in jou lewe tans te werk?

Gebed:
Here, dankie dat U ons uitnooi vir die reis van gelowige wees. Dit is nie altyd ‘n maklike pad nie. Dit is wel, altyd die moeite werd.
Here, dankie dat U soveel geduld met my het, terwyl dit my soms so lank neem om te leer. U genade vir my, oorweldig my.
Here, dankie dat U steeds vandag met my is. Dit bemoedig my, troos my en versterk my.
Amen.

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika