Matteus 7:1-6
1 “Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; 2 met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word.
3 “Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? 4 Of hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Wag, laat ek die splinter uit jou oog uithaal,’ en intussen is daar 'n balk in jou eie oog? 5 Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal.
Om oor te gesels:
As ons verder deur die Bergrede gaan, wys Jesus dat ons versigtig moet wees met ons oordeel. Partymaal wil ons onsself regverdig en nie erken dat ons verkeerd is nie.
Dit wat ons in ander mense irriteer, is dikwels dinge wat onsself doen of nie van hou nie. Dit is makliker om ander se foute raak te sien, eerder as ons eie.
Kom ons oordeel minder en help mekaar in liefde reg, want so laat ons die koninkryk van Jesus kom.
Gebed
Here, ek sien nie altyd my eie foute raak nie en oordeel maklik. Help my om my eie foute te erken en help my om mense met liefde te hanteer. Amen.