Prediker 3:11-13
“11 God het elke ding gemaak dat dit pas in 'n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens 'n besef gegee van die onbepaalde tyd. Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie begryp nie. 12 Ek het tot die insig gekom dat daar vir 'n mens niks beter is nie as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet. 13 Dat die mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet, ook dit is 'n gawe van God.”
Om oor te gesels en dink:
Prediker worstel met die vraag na die sin van die lewe. Hy probeer om die geheim van die lewe te ontdek. In sy gewaarwording voel dit of alles tot niks kom. Ons ken die begin van Prediker 3 dat daar ’n tyd vir alles is. Ons mag selfs uitgelewer voel aan die tyd, maar nou herinner vers 11-13 ons dat God ook vir ons ’n ewigheidsperspektief kom gee het. Ons is nie uitgelewer aan tyd nie. Dit hoef ons nie te oorweldig nie. God is ook nou by ons.
Al begryp ons nie die werk van God nie, kan ons weet God ook hier is. Ons kan die goeie saam met God geniet. Dit is ’n gawe van God om te kan eet en drink en die goeie te geniet. Hierdie wete gee ons hoop sodat ons nie hopeloos hoef te leef nie.
Dit mag vandag vra dat jy anders na jou eie situasie kyk.
Gebed
Here, ek voel soms oorweldig oor wat alles gebeur. U het vir ons die ewigheid en hoop kom gee. Mag ek vandag hierdie gawe raak sien en ook die goeie van die lewe geniet. Dankie dat U vandag by my is. Amen.