Leef in Waarheid – Wat is Waarheid?
Johannes 14:6-7
6Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. 7As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom.”
Om oor te gesels of te dink:
- Wat is waarheid? Dit is so moeilik om te beskryf. Van vroeg af was dit ‘n filosofiese vraag wat talle probeer beantwoord het. Vir die Grieke kan die waarheid gevind word in jou denke, meditasie of deur goeie werke. Of deur die gode gelukkig te hou. Vir die Jode is die waarheid dat daar ‘n Joodse bevryder gaan kom wat die die Jode gaan vry maak. Dit was hulle waarheid. In die moderne woordeboek is die betekenis die inhoud, die feite, die dinge en gebeure van realiteit of dit wat werklik is. Dit is hoe waarheid beskryf word. Maar hierdie beskrywing is steeds afhanklik van die mense wat na die inhoud, die gebeure, die situasie kyk. Soos die prentjie op vandag se stukkie wys. Ons perspektief het invloed op die waarheid.
- In die teksgedeelte vandag antwoord Jesus ‘n teologiese gesprek met uitspraak dat Hy die Weg, die Waarheid en die Lewe is. As ons God wil ken, hoef ons slegs vir Jesus te ken. Hy los ons ook nie alleen nie, hy los vir ons die Gees van Waarheid. Hy is die bevryder, wat anders lyk as die verwagting van die Jode. Maar Hy is ook meer as net denke wat ons glo oor feite, situasies en ervarings. Dit is die ken van Jesus self. Dit is in verhouding wees met Christus. Dit is ‘n belydenis in God drie-enig.
- Wat is Waarheid vir jou? Hoe sou jy Waarheid vir iemand beskryf as hulle nog nooit met Waarheid te doen gekry het nie? Hoe kan die Waarheid jou vry maak? As jy die keuse het, sou jy kies om altyd die Waarheid te volg en in Waarheid te leef? Deel jou gedagtes aangaande Waarheid met die Here.
- Hoe gaan die wêreld om met waarheid? Watter uitdagings stel die wêreld aan jou as dit kom by die waarheid? Waarmee sukkel jy die meeste? Waarmee het jy God se hulp die meeste hulp nodig?
Gebed:
Vader, ons word van jongs af geleer om te bid. Vader ek vra vir U om my te wys hoe om te bid in gees en waarheid. Leer my om te bid Here, soos U wil hê ek moet bid.
Here, ek bid dat my menslike gees gelei sal word deur U Heilige Gees. Here ek vra vir U leiding deur Jesus Christus wat my hele lewe in beheer geneem het. Mag U Seun my stuur volgens U wil. Ek bid Here dat my menslike wil gehoorsaam en onderdanig aan U Gees van Waarheid sal wees. Mag ek leer om hierdie Gees van Waarheid sensitief na te volg.
Here, soos ek voor U kniel in nederigheid en aanbidding wil ek U naam groot maak vir die voorreg om te mag bid. Ek bid dat U my gebede sal toets aan die waarheid van U Woord. Here ek vra dat dit waarvoor ek vra in lyn sal wees met dit wat op U hart en in U wil is. Here, mag my hart brand vir dit wat U hart voor brand.
Here, leer my om te bid in gees en waarheid. Mag my versoeke ‘n soet smaak en gunstige geur vir U wees. Hierdie is my hart se behoefte. Ek bid dit in U naam, die Weg, die Waarheid en die Lewe.
Amen.