Lukas 10:38-42
38Op hulle reis het Jesus in 'n dorp gekom waar 'n vrou, Marta, Hom as gas ontvang het. 39Sy het 'n suster gehad, Maria, wat aan die voete van die Here gaan sit en na sy woorde geluister het. 40Maar Marta was baie bedrywig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê: “Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê sy moet my kom help!” 41Maar die Here antwoord haar: “Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, 42maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie.”
rou VRAE:
- Die verhaal van Marta en Maria is amper so bekend dat mens verby alles lees. Dit begin met die sin wat verduidelik dat Jesus ‘n gas was by Marta. Marta neem haar rol as gasvrou baie ernstig. Sy voel verantwoordelik. Sy wil die beste gee vir haar gas. Hy is nie net enige iemand nie, Hy is ook Jesus, haar Here.
- Soms kies ons om met die dinge van die Here besig te wees, en dit is ook goed. Maar dit is nie goed wanneer ons so besig is met die dinge van die Here, dat ons die Here van die dinge misloop nie. Hier wys Maria vir Marta hoe dit lyk om Jesus te dien. Deur by Hom te ontvang, nie net te gee nie.
- Voel jy druk om meer en meer te doen en meer en meer te wees? Waarom? Wie plaas hierdie druk op jou? Deel jou hart met die Here.
- Wat gebeur binne jou lyf, gedagtes en gees wanneer jy laag loop op energie, tyd en hulpbronne? Is dit God se hart vir jou?
-Is jy in die versoeking om in daardie oomblikke deur te druk en die bewustheid van jou moegheid, te onderdruk, ongeag die konsekwensies? Hoe gaan dit jou in die lang termyn help?
rou OEFENING:
- Ons is beperkte wesens. Tog maak die idee van “nee” sê vir ons soms ongemaklik.
- Hoe lyk gesonde grense vir jou? Wanneer weet jy moet jy nee sê?
- Waarvoor gaan jy hierdie week nee sê?
Gebed:
Here, wys vir my die grense van alles wat myne is om vas te hou en myne is om te doen. Here, help my met die ongemak. Help my met die stoot-trek van uitsorteer wat my tekortkominge is. Help my om binne dit te werk sodat dit kreatief en volhoubaar is. Here, verbind my aan ander sodat ons werk vrugbaar sal wees vir ons.
Amen