Titus 3:4-7
4Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mens verskyn. 5Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee. 6God het die Heilige Gees oorvloedig op ons uitgestort deur Jesus Christus ons Verlosser. 7So is ons dan deur sy genade vrygespreek en het ons erfgename geword van die ewige lewe wat ons verwag.
Om oor te gesels of te dink:
- Kyk na al die verskillende uitdrukkings van genade (BOLD) in hierdie gedeelte. Hoe sou jy genade beskryf vir iemand wat nog nooit die woord gehoor het nie, of nie die taal so goed magtig is nie? Hoe sou jy genade beskryf vir jouself?
- Titus se mooiste beskrywing van genade is in vers 4 van hierdie gedeelte. Die goedheid (‘chrestotes’ in Grieks) en die liefde vir die mensdom (‘philantropia’ in Grieks) het op die aarde verskyn. Dit het mens geword en beliggaam hoe dit moet lyk. Hoe het Jesus genade kom wys vir die mensdom?
- ‘Chrestotes’, goedheid, is om vriendelik, goedhartig en aangenaam te wees tot so ‘n mate dat dit aantreklik is vir ander. Mense wil by mense wees wat ‘chrestotes’/goedheid uitleef. Dit is waarom ons God wil dien, beter leer ken, in verhouding met Hom wil wees. Waar sien jy hierdie tipe goedheid raak in by God, ander gelowiges, die wêreld en in joueself? Vra dat die Here dit meer sigbaar vir jou sal maak en nog meer in jou wakker sal maak.
- ‘Philantropia’, ‘n liefde vir die mensdom, is om so van mense te hou en lojaal teenoor hulle te wees, soos wat honde amper van nature is. Daar is ‘n vertroue en verwondering. God het dit vir die mensdom. Dit kom natuurlik, in oorvloed en onverdiend. Waar sien jy hierdie tipe ‘philantropia’/liefde vir die mensdom by God, ander gelowiges, die wêreld en by jouself? Vra dat die Here dit meer sigbaar vir jou sal maak en nog meer in jou wakker sal maak.
Gebed:
Here van my lewe,
Ek wil U dank en eer vir die goedheid en liefde wat U vir ons gee. Dankie dat dit mens geword het. Dankie dat ons prakties kon sien hoe dit lyk. Here, soms voel ek dit nie. Here, help my om meer bewus te word daarvan, want dit is altyd daar. Help my ook Here om dit vir ander te gun en uit te leef. Sodat hulle ook U as die bron van hierdie genade kan leer ken.
Amen