Handelinge 11:15-18 (NAV)
15 “Skaars het ek begin praat, of die Heilige Gees kom op hulle net soos op ons in die begin. 16 Toe dink ek aan die woorde wat die Here gesê het: ‘Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word.’ 17 Hulle het net soos ons in die Here Jesus Christus geglo, en God het aan hulle ook dieselfde gawe as aan ons gegee. Wie was ek dan om God te probeer verhinder?” 18 Toe die gelowiges dit hoor, was hulle tevrede. Hulle het God geprys en gesê: “God het selfs mense wat nie Jode is nie, tot inkeer gebring om aan hulle die lewe te gee.”
Petrus vertel in hierdie teksgedeelte wat in Kornelius se huis in Sesarea gebeur het. Mense wat nie Jode was nie het tot geloof in Jesus gekom, en God het Sy Gees in Sy volheid oor hulle uitgestort! Dit het die Christene, wat tot op daardie stadium van Joodse afkoms was, onkant betrap, en hulle was onseker of dit so volgens God se wil moes gebeur.
In Handelinge 11 lees ons dat die kerk hieroor gesels het, en dat hulle nederig aanvaar het dat God deur Sy Gees kan doen net wat Hy wil, juis omdat Hy uitvoering wou gee aan Sy beloftes aan die begin van Handelinge en dit is dat die Kerk Sy getuies sal wees tot aan die uithoeke van die wêreld.
Hierdie storie wat Petrus vertel is ’n baie belangrike draaipunt in die storie van Handelinge. Dit het veroorsaak dat die evangelie kon versprei na alle mense, dit het vir my en jou die voorreg gegee om deel te wees van die Kerk.
Waarmee moet die Kerk nou besig wees?
Is ons getuienistaak afgehandel, of moet ’n storie soos hierdie ons juis weer inspireer om na buite te kyk en te soek vir die onwaarskynlikes wie God wil red?
Die Kerk, ons eie geloofsfamilie ingesluit, is ’n missionale kerk! Ons is gestuur, ons is aan die beweeg, ons is nog lank nie klaar nie!
Wat beteken dit?
Kom ons leer saam hierdie week, deur elke dag na een van die maniere te kyk hoe die kerk missionaal is.
“Without God's Spirit, there is nothing we can do that will count for God's kingdom. Without God's Spirit, the church simply can't be the church.” N.T. Wright