Maandag 15 November

1 Samuel 1:24-28
Toe sy (Hanna) hom gespeen het, het sy hom saamgeneem, en ook 'n driejaaroud bul, sestien kilogram meel en 'n kruik wyn. Sy het hom as klein seuntjie weggebring na die huis van die Here toe in Silo. Elkana-hulle het die bul geslag en die seun na Eli toe gebring, en Hanna het gesê: “Ekskuus, Meneer, u sal my nie glo nie, maar, Meneer, ék is die vrou wat hier by u gestaan het om tot die Here te bid. Om hierdie seun het ek gebid, en die Here het aan my gegee wat ek van Hom afgesmeek het. Ja, van die Here het ek hierdie kind afgesmeek, en nou sal hy sy lewe lank iemand wees wat van die Here afgesmeek is.” Toe het hulle die Here daar aanbid.

Om oor te gesels of te dink:
Ons leer Hanna ken as kinderloos. Elke jaar word sy daaraan herinner wanneer hulle na die tempel gaan om offers te bring. Haar kinderloosheid het ook gevolge vir haar ingehou in terme van haar sekuriteit in die toekoms. Sou haar man te sterwe kom, het sy geen seun om haar verder te versorg nie. Hanna bid vir 'n kind en dan word sy swanger! In hierdie teks lees ons hoe sy haar seun 'weggee' om in die tempel in die Here se diens groot te word. Sy gee haar sekuriteit en toekoms weg, nadat sy hom by die Here afgesmeek het.

Neem 'n oomblik van stilte.

  • Watter dinge in jou lewe is tans jou sekuriteit?
  • Wat verseker 'n mooi toekoms vir jou?
  • Is dit nie in elk geval 'n geskenk van die Here nie?
  • Hoe kan God hierdie moontlik gebruik om tot seën vir ander mense ook te wees?

Gebed:
Vra die Here om vandag vir jou te wys hoe God die geskenke in jou lewe kan gebruik. Meer gebruik as wat jy dit net beskerm en eenkant hou. Hoe kan God dit gebruik in sy Koninkryk.
Here, wys ons wat U wil is.
Amen.

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika