Maandag 16 Mei 2022

Spreuke 31:10
'n Knap vrou is baie werd, baie meer as edelstene.

Om oor te gesels of te dink:

  • Die hele boek van Spreuke handel oor die beskrywing van wysheid. Wysheid is ‘n seldsame verskyning en ‘n belangrike eienskap vir iemand wat die Here dien. Wanneer die skrywer die boek afsluit in Hoofstuk 31 beskryf hy hoe wysheid prakties lyk in iemand se lewe. Hier gebruik hy die vrou om so ‘n persoon met wysheid te beskryf. Ons gaan daagliks stilstaan by verskeie elemente van hierdie persoon met wysheid.
  • ‘n Persoon met wysheid, is iemand wat meer werd is as edelstene. Hulle is kosbaar. Hulle het waarde. Nie deur dit wat hulle doen, wat hulle bereik, wat hulle verwerk, bemagtig, poog om te wees, manipuleer of beywer nie. Hulle het waarde slegs in wie hulle is. Mense om hulle weet dit. Hulle laat nie toe dat ander hulle sonder waardigheid hanteer nie. Hulle is nie aanvallend, afbrekend en aggressief wanneer hulle nie na waarde hanteer word nie. Hulle weet net wat hulle werd is, en neem dit nie persoonlik as hulle nie na gelang ontvang nie.
  • Wat is jy werd? Ken jy jou waarde? As jy ‘n prys op jou eie waarde sou moet plaas, wat sou dit wees? Waarom? Wat aanvaar jy van ander en wat nie? Wat maak jy wanneer ander jou nie na waarde hanteer nie?
  • Wat is ander om jou werd? Hoe hanteer jy hulle? Het jy mense wat gevul is met wysheid en meer waardevol is as edelstene? Is daar ander wat jy sleg behandel omdat hulle nie so waardevol is nie? Is dit die hart van hierdie teks? Hoe behoort jy mense te hanteer as dit kom by hulle waarde, of jou eie waarde?

Gebed:
Here, dankie dat U vir ons die geleentheid skep om te kan vra vir wysheid. Here, ek vra dat U my sal vul met wysheid. Here, dankie vir elke voorbeeld van wysheid in my lewe.
Dankie vir elke voorbeeld van iemand wat meer waardevol is as edelstene. Help my om hulle so te hanteer. Here, mag ek ook so leef in wysheid.
Amen.

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika