Maandag 20 Desember

1 Johannes 4:9-10
Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

Om oor te gesels en dink:
In die laaste week voor Kersfees, fokus ons op die tema van liefde. Wat beteken God se liefde vir hierdie wêreld vir jou?

Neem 'n oomblik van stilte

  • Waar in jou lewe openbaar God God se liefde vir jou? Waar word jy herinner dat die God van Abraham, Isak , Jakob en Jouself jou werklik liefhet?
  • Hoe gemaklik is jy met die woord 'liefde' as dit by God kom? Hoe voel jy wanneer daar oor God se liefde gepraat word?

Ons leef in 'n wêreld wat behep is met liefde - of eerder, romantiese liefde. Vandag se teks praat oor ware liefde en herinner dat ware liefde nie dit is wat ons doen nie, maar wat God doen. Ware liefde is morsige-stal-liefde, prysgee-liefde, versoen-liefde, liefde-wat-lewe-gee-liefde. Dis die tipe liefde wat bo ons begrip en bo ons verstand is. Liefde is nie altyd die warm 'fuzzy' gevoel nie, maar dit behels ook 'n gerigtheid op 'n ander. God se liefde is meer as 'n gevoel, maar is ook 'n gerigtheid, 'n fokus, op ons en ons welwese. En so, vandag, op 'n grou Maandag, is dit dalk net goed om te onthou wat ware liefde werklik is. WIE ware liefde werklik is. Dat ware liefde God is wat 'n liefdevolle oog op ons hou en 'n brose lyf vir ons gee sodat ons kan sien: God is waarlik 'n God van liefde!

Gebed
Here, vanmore dink ons aan daardie gevoel wanneer ons weet dat 'n geliefde ons dophou… daardie gevoel wanneer ons weet, ons is geliefd. Here dankie dat U ons in liefde fyn dophou, ons liefhet op 'n manier wat ons nie verstaan nie. Dankie dat U mens geword het sodat ons nou, soveel eeue en eeue later steeds kan onthou wat en Wie ware liefde is en dit saam kan vier.
Amen.

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika