Maandag 20 September

Klaagliedere 3:18-23
18Ek het gedink dit is klaar met my en met my hoop op die Here. 19Die gedagte aan my ellende en my vreemdelingskap is gal en gif vir my; 20as ek daaroor nadink, draai my gedagtes vas. 21Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: 22deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, 23dit is elke môre nuut. U trou is groot.

Om oor te gesels of te dink:

  • In hoofstuk 3 van Klaagliedere is ‘n individu aan die woord. Indien jy die hele hoofstuk sou lees, sou dit klink asof ons by HOOP se begrafnis staan. Die individu het opgegee en is reg om alle HOOP te begrawe. Wat die individu hier by die begrafnis sien is egter ‘n wonderwerk, Hy sien dat God teenwoordig is. Hy sien dat God steeds liefhet en Homself oor die individu en die volk ontferm. Hierdie gewaarwording maak dat die individu weer HOOP vind en kan bely: Die Here is my lewe.
  • Wat is die dinge wat jou tans laat voel dat daar nie meer hoop is nie? Deel jou hart met die Here.
  • Waar in die afgelope naweek het jy God raakgesien of ‘n straaltjie van hoop beleef? Indien jy werklik nie hierop positief kan antwoord nie, praat met ‘n medegelowige en vra vir hulle die vraag.
  • In die aand voor jy gaan slaap praat met die Here. Vra vir Hom om alles waaroor jy gekla het en jou hoop vandag gesteel het nou weg te neem en stil te maak. Vra vir Hom om jou deur die nag te herstel en jou oë oop te maak om môre bewus te wees van die nuwe dag, God se liefde, Sy ontferming, en Sy hoop. (Gaan kyk na die huisgeloof in gister se erediens en leer van die “Boop” knoppie. Die knoppie kan jou en jou huisgesin help met ‘n fisiese teken wanneer jy weer in klaagliedere verval om te onthou dat God elke oomblik nuut maak en dat jy weer nuut kan begin om hoop raak te sien.

Gebed:
Goeie more, Here van my lewe!
Vandag is ‘n nuwe dag, ‘n kans vir ‘n nuwe begin. Gister is verby en daarmee saam enige foute, mislukkings of dinge waaroor ek moontlik spyt is.
Dis ‘n goeie dag om dankbaar te wees, en ek is dankbaar, Here.
Dankie vir vandag, ‘n nuwe geleentheid om lief te hê, te gee en om alles te wees wat U wil hê ek moet wees.
Ek wil my dag begin met U in my gedagtes en in my hart.
Soos ek besig is om aan te trek, trek asseblief vir my die wapenrusting aan wat U elke dag aan my voorsien: die helm van Verlossing, die borsharnas van vryspraak, die skild van Geloof, die gordel van Waarheid, die skoene van Bereidheid om die evangelie te verkondig en die swaard van die Gees.
Gee my vandag my daaglikse Brood – omdat hierdie Brood van die Lewe, U voedsel soos manna, my sal versterk teen enige aanslae.
Help my om my gedagtes op U te rig en slegs woorde te spreek wat ander kan help en bemoedig.
Help my om te dink voordat ek praat en dat ek die begeertes van my hart opsy sal sit. Help my om te streef na uitstekende werk, in plaas van perfekte werk – dat ek nie probeer om “naam te maak” nie, maar eerder om ‘n verskil te maak.
Help my om almal met wie ek in aanraking kom, te behandel soos U hul sou behandel – met respek en liefde en vergifnis.
Help my ook om self om vergifnis te vra indien nodig.
Herinner my aan die begin van hierdie dag, dat ek aan U behoort. Dit is my begeerte om ook so op te tree.
Hou my voete vas op die grond en verhoed my gedagtes om te dwaal, sodat ek nie kosbare tyd in beslag neem terwyl ek eintlik besig moet wees met die belangrike dinge wat U vir my beplan het.
Ek is trots daarop om U kind te wees, Here!
Ek is so dankbaar dat U vir my aan die kruis gesterf het – weer opgestaan het op U eie, nuwe dag – sodat elke dag daarna gevul kan wees met die wonder van U liefde, die vryheid van U Gees en die vreugde om U te kan ken.
Ek weet dat my lewe op aarde kort en vlietend is, Here, maar ek wil vandag leef asof dit die eerste of die laaste dag van my lewe is.
Here help my terselfdertyd dankbaar wees vir elke perfekte gawe wat U gekies het om vir my te gee.
Vandag, en elke dag, wil ek my lewe aan U wy, Jesus. In U kosbare Naam.
Amen. (Rebecca Barlow Jordan)

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika