Soek Geregtigheid – Soek na God.
Jeremia 29:11-13
11Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting! 12Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor. 13Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra.
Om oor te gesels of te dink:
- Geregtigheid is om die regte ding te wil doen. Dit is ‘n tema wat nogal nou gekoppel is met ons as gelowiges. Dié wat die Here volg wil die regte ding doen. Ons gaan hierdie week kyk na wat is die regte ding om te doen.
- Die teks waarna ons vandag kyk is ons vertrekpunt wanneer dit kom by geregtigheid, wanneer dit kom by die regte ding wil doen. As ons ernstig daaroor is om geregtigheid na te jaag moet ons begin by dit wat die belangrikste is. EN dit is om God na te jaag. Dit is die regte ding om te doen.
- Jaag jy die Here na? Het jy ‘n verhouding met God? Glo jy in die Skepper van die heelal? Ken jy Hom as jou Heer, Verlosser, Restoureerder en Vriend? Het jy ‘n verhouding met Hom? Hoe sou jy jou verhouding met God beskryf as jy iemand nuut ontmoet? Hoe sou jy jou verhouding met God beskryf aan die persoon wat jou die beste ken?
- Indien jy nog nooit die geleentheid geneem het om vir die Here te sê dat jy ernstig ‘n verhouding met Hom smag nie, dat jy die regte ding wil doen en jou lewe lank na Hom wil soek nie, neem nou jou kans. Vra dat die Here jou lewe sal oorneem en transformeer. Vra dat die Here jou sondes sal vergewe. Vra dat die Here jou sal help om nou te leef as ‘n nuwe mens. Vra dat die Here jou nou sal wys hoe lyk dit om Hom elke dag vir die res van jou lewe na te jaag.
- Waarom dink jy is dit die regte ding om te doen, om na God te soek? Deel jou hart met die Here.
Gebed:
Liewe Heer,
Heilige God. U liefde is buitengewoon, stewig en onveranderd. U liefde is sonder einde, passievol en verstommend. Ons is so dankbaar vir U opoffering in Jesus. Dankie vir die manier waarop Jesus ons herstel en restoureer het sodat ons weer in die regte verhouding met U kan staan. Here, ons erken dat ons hierdie geskenk as vanselfsprekend aanvaar. Ons mis hoe kosbaar en besonders dit is. Ons leef soms soos mense wat nie herstel en vernuwe is nie. Vergewe asseblief ons sondigheid. Here maak ons skoon. Herstel ons. Steek ons harte weer aan die brand, om met passie vir U te leef. Here, ons vra dit nederig in Jesus naam, en die krag van die Heilige Gees.
Amen.