1 Johannes 3:1-3
1Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook. En die wêreld ken ons nie, omdat dit Hom nie ken nie. 2Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God. Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is. 3Elkeen wat hierdie verwagting in verband met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is.
rou VRAE:
- Die gedeelte sê ons is kinders van God. Die realiteit is wel dat ons soms soos wees-, pleeg- of aanneem kinders voel, eerder as werklike bloed kinders. Wat is die verskil? Werklike kinders voel veilig, verseker van hulle ouers se liefde, sorg en beskerming. Hulle hoef nie bekommerd te wees dat hulle weggegee gaan word nie. Hulle hoef nie bekommerd te wees dat hulle swak gedrag of tekortkominge hulle plek in hulle ouers se hart gaan verander nie. Wees-, pleeg- en aanneem kinders voel altyd onseker of iets wat hulle sê of doen hulle plek in hulle ouers se huis en hart kan verander. Daarom is daar druk om perfek te wees, nie te veel te vra nie, nie foute te maak nie, nie ‘n las te wees nie.
- In vandag se gedeelte daag ons teks ons uit om gemaklik, rustig en vry te voel om net ons rou, eerlike en imperfekte self te wees. Ons kan spasie los om nie vandag alles te wees wat ons dink ons moet wees nie. As ons vandag faal en nie hierdie dag kan klaarmaak nie, is daar genade en liefde wat ons vang.
- In ‘n kultuur wat altyd meer, meer, meer wil hê, hoe kan jy vandag gemaklik wees om net jouself te wees, foute en tekortkominge ingesluit? Hoe kan jy minder wees van alles wat die kultuur verwag, en net wees by God?
- In ‘n kultuur wat perfek wil wees, hoe kan jy gemaklik wees met foute maak? In ‘n kultuur wat maklike sukses wil hê, hoe kan jy gemaklik wees met sukkel? In ‘n kultuur wat oordeel, hoe kan jy net wees?
rou OEFENING:
- Die Batalha Klooster in Portugal. Die geboue is besonders versier, alhoewel dit nie werklik klaar gebou is nie. Die onvoltooide kapel het steeds nie ’n dak nie. (https://www.youtube.com/watch?v=HqbeVRGzw6o&ab_channel=KateBowler)
- Hoe kan die onvoltooide kapel vir ons iets leer oor ons eie imperfeksies?
Gebed:
Here, ek is dankbaar dat u na my kyk en U eie handewerk raaksien. U sien my hoe ek reeds in Christus herstel is. Here, ek is in verwondering oor U oë, wat my so kan sien. ’n Werk van liefde en sorg. Dankie Here.
Amen