Jesaja 9:5-6
Vir ons is 'n Seun gebore, aan ons is 'n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg.
Om oor te gesels en te dink
Advent is 'n woord wat 'koms' of 'aankoms’ kan beteken. Dit is ook die tyd in die kerklike jaar wat ons in afwagting aftel tot die herdenking van Jesus se eerste koms: Kersfees. Die eerste Sondag van Advent vir hierdie jaar is komende Sondag 3 Desember. Ons lees in tekste waar mense gewag en vertrou het op die koms van 'n Messias. Mense het iemand nodig gehad om hul te kom help en verlos, min wetend hoe hierdie Verlosser van hul beeld sal verskil. 'n Verlosser wat as 'n baba in 'n krip gebore word! Wat is jou verwagting van God op hierdie stadium van jou lewe? Hoe word jy opnuut gekonfronteer met die verhaal van Jesus se koms in jou eie lewe?
Gebed
Here, vandag wonder ek oor ander mense se verwagting oor U koms. Wat het Maria as moeder verwag? Wat het die mense wat swaarkry in gedagte gehad? Jesus ek weet dat U die wêreld van die begin af op haar kop kom draai het, draai ook so my eie verwagting en verstaan van U eerste koms. Amen