Johannes 15:1-5
“Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra. Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het. Julle moet in My bly en Ek in julle. 'n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie. “Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.”
Om oor te gesels en dink:
Die metafoor van Jesus as die wingerdstok is nie alleen bekend nie, maar ook ’n baie spesiale beeld. Dit dui op die besondere intieme verhouding wat Jesus met ons het. Dit gaan oor afhanklikheid en dat ons deel van Hom is. Nie alleen is ons verbind aan Jesus soos lote nie, maar die Vader is die boer wat omsien na ons en die beste vir ons wil hê, sodat ons ’n goeie oes sal lewer.
Hierdie is ook die laaste “Ek is”-uitspraak van Jesus aan Sy dissipels. Hy praat met hulle in die laaste dae voor Sy kruisiging. Jesus besef dat Judas Hom binnekort gaan verraai (nie vrug dra nie), tog moedig Hy hulle aan om aan Hom getrou te bly.
Ons kan nie vrug dra as ons nie deel van die wingerdstok is nie. Soos Hy in ons bly, moet ons in Hom bly.
Gebed
Jesus, dankie dat U die wingerdstok is en ek ’n loot. Dankie dat U in my bly en my deel van U maak. Mag ek vandag gevul word met die lewensap om vrug te dra waar ek vandag beweeg. Amen.