Maandag, 28 Junie

Wees soos Jesus – Praat anders.

Matteus 7:28-29
28Toe Jesus klaar gepraat het, was die skare verbaas oor sy onderrig, 29want Hy het hulle geleer soos 'n man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes nie.

Om oor te gesels of te dink:

  • Jesus het vir die mense van sy tyd uitgestaan omdat Hy anders was as die wêreld van sy tyd. Terwyl die Fariseërs en Skrifgeleerdes van die tyd baie mooi gevleuelde woorde gebruik het, was daar geen outoriteit agter dit nie. Die woorde was leeg. Jesus kom en Sy woorde dra gewig. Hy praat met outoriteit. Hy praat en mense luister. Want Hy kom met integriteit en Hy doen wat Hy sê.
  • Dink aan iemand wat jy na opkyk. Waarom kyk jy op na hulle? Wat in hulle boodskap beïndruk jou? Sou hulle integriteit verloor as hulle gedrag nie dit ondersteun nie? Waarom het die boodskap wat hulle lewe gewig? Praat met die Here oor dit wat jy glo.
  • Dink aan die woorde wat jy gebruik. Dra hulle outoriteit? Het hulle gewig? Sal God agter hulle staan? Sal Hy jou woorde versterk? OF is jou voorbeeld besig om afbreek te maak aan dit wat jy sê? Deel jou hart met die Here?
  • Waar het jy Jesus se hulp nodig as dit kom by die manier waarop jy praat? Hoe wil jy hê moet Hy jou help sodat mense kan sien jy is meer soos Hy as dit hierby kom?

Gebed:
Here van my lewe,
Leer my vandag om meer soos Jesus te wees.
Ek vra dit met die wete dat ek op een of ander manier teen vanaand in hierdie taak gaan faal. Maar Here, ‘n lewe waarin dit die enigste doel is waarheen ek streef, is nie ‘n lewe wat gemors is nie.
Here Jesus, meer van U, en minder van myself.
Amen.

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika