Johannes 3:16
“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.
Om oor te gesels of te dink:
- Nikodemus, ‘n Fariseër en skrifgeleerde kom na Jesus in die nag met ‘n vraag. Hoe kan ‘n mens weer gebore word? Mens kan sekerlik nie, as volwasse man terug klim in jou ma se skoot en weer gebore word nie? Johannes 3:16 is deel van Jesus se antwoord. ‘n Mens wat begin glo hoef niks te doen nie, maar slegs op God se liefde te vertrou. Sy liefde vir ons verseker ons dat ons nie veroordeel word nie, maar die ewige lewe sal ontvang.
- Jesus se koms na die aarde is vir elkeen wat glo. Wanneer het jy begin glo? Waarom het jy begin glo? Deel met die Here jou storie. Deel met iemand anders jou storie. Wat het hierdie besluit in jou lewe verander?
- Wat is die ewige lewe? ‘n Lewe in die teenwoordigheid van die Here. Dit begin nou reeds. Dit is nie iets wat eer later kom nie. Die ewige lewe is nou reeds die ervaring van gelowiges wat glo. Hoe beleef jy die ewige lewe? Hoe sou jy die ewige lewe beskryf vir iemand wat dit nog nie ervaar het nie? Deel jou hart met die Here.
- Is daar tans iets in jou geloofslewe wat jy voel, nie reg is nie? Deel dit met die Here. Maak jou hartsbegeertes aan die Here bekend.
Gebed:
Here van my lewe,
Dankie dat U na die wêreld gekom het vir my. Dankie dat U my so lief het. Dankie dat U nou reeds vir my die lewe in oorvloed gee, deur my in U teenwoordigheid toe te laat. Dankie dat U my nie veroordeel nie, maar my in genade deurdrenk. Here, help my om hierdie ervaring ook met ander te deel, sodat hulle dit vir hulleself kan beleef.
Amen