Matteus 6:12
”en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree,”
Om oor te gesels of te dink:
- Dink na oor hoe jy ander vergewe. Indien dit die maatstaf sou wees vir hoe die Here jou vergewe vir jou oortredings, sou jy werklik vergewe wees? Deel met die Here jou gedagtes rondom wat vergifnis is, hoe jy dit gee, en waarmee jy uitdagings het.
- Is jou vergifnis afhanklik van berou by die ander persoon? In hierdie gedeelte is daar niks gesê oor vergewe wanneer iemand vir vergifnis vra nie. Vergifnis is nie afhanklik van iemand se vermoë om vergifnis te vra of berou te toon nie. Die fokus is op die persoon wat moet vergewe, nie die persoon wat berou het nie. Is dit vir jou moeilik om iemand te vergewe wat nie berou het nie? Het jy eers ‘n erkenning van skuld nodig voor jy kan vergewe? Deel met die Here waarom dit vir jou moeilik is om nie net te vergewe nie.
- Jesus het sy lewe vir elkeen van ons gegee en die finale opoffering gemaak, voordat ons berou getoon het vir ons eie tekortkominge, versoekings en sondes. Wat sou gebeur as God eers gewag het vir ons berou en erkenning van skuld, voordat Hy ons vergifnis aangebied het?
- Praat vandag met die Here oor jou verstaan van vergifnis. Wat beteken dit? Hoe lyk dit prakties? Hoe laat dit jou voel?
Gebed:
Here, ek is so dankbaar vir U vergifnis wat U vir my gee. Here, ek weet dat my eie vergifnis wat ek vir ander bied, tekort skiet. Here, help my met my tekortkominge en onvergenoegdheid. Here, help my om ‘n hart te hê wat meer bereid is om vergifnis te gee, soos wat ek dit by U ontvang ook. Here, help my om meer soos Jesus te wees. Here, help my om meer vrygewig te wees met my vergifnis.
Amen