Maandag 30 Oktober 2023

Jesaja 61:1-3
Die Gees van die Here my God het oor my gekom; die Here het my gesalf om ’n blye boodskap te bring aan die mense in nood, Hy het my gestuur om dié wat moedeloos is, op te beur,om vir die gevangenes vrylating aan te kondig,vryheid vir dié wat opgesluit is, 2om aan te kondig dat die tyd gekom het waarop die Here genade betoon, die dag waarop ons God sy vyande straf maar almal wat treur, vertroos, 3die dag waarop Hy vir dié in Sion wat treur, eer gee in plaas van smart, vreugde in plaas van droefheid, blydskap in plaas van hartseer.

Om oor te gesels en te dink
Jesaja bring ’n boodskap van bemoediging aan ’n moedelose volk wat swaar kry. Hy beklemtoon dat God self hulle gaan verlos. Hy wil vir hulle ’n booskap van vreugde bring dat God hulle raak sien in hulle nood. Hy sê vir hulle dat hulle lot gaan verander. Die wat moedeloos is, gaan opgebeur word, die wat gevange is, sal vry word, want God se genadejaar is hier.
Lukas maak later in die Nuwe Testament hierdie woorde op Jesus van toepassing. Jesus het God se genadejaar kom aankondig. Hy het alles kom verander. Hy kom gee eer in plaas van smart, vreugde in plaas van droefheid en blydskap in plaas van hartseer.
Dalk voel jy ook vandag moedeloos of hartseer?
Hierdie belofte is ook vir jou. God se genadejaar is hier en Hy sal jou nooit alleen los nie en Hy sal jou lot verander. Vertrou Hom daarvoor.

Gebed
Here, dankie vir hierdie belofte. Dankie vir U genade. Mag ek vandag U troos ervaar. Mag ek vandag bewus wees dat U my nooit sal los nie. Amen.

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika