Matteus 5:13-16
13 “Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry 'n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.
14 “Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; 15 ook steek 'n mens nie 'n lamp op en sit dit onder 'n emmer nie maar op 'n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. 16 Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.” (Matt 5:13-16)
Om oor te gesels:
Nadat Jesus die saligsprekinge gedeel het en vir Sy volgelinge gesê het dat hulle geseënd sal wees, ook as dit swaar gaan met hulle, moedig Jesus hulle aan met hierdie twee treffende beelde. Hulle en ons is die sout vir die aarde en lig vir die wêreld.
Met beide hierdie beelde mis jy dit dadelik as dit nie daar is nie. As daar nie sout in kos is nie, proe jy dit en as daar nie lig is nie, sien jy net donkerte.
Jesus moedig ons aan om met alles wat ons doen aan ander te wys dat Hy dié verskil in ons lewens is. Dit gaan nie daaroor dat mense ons eer en waardeer vir wat ons doen nie, maar dat die Vader in die hemel verheerlik sal word.
Gebed
Here, soms voel ek nie of ek vir iemand iets kan beteken nie, maar U roep my op om ’n verskil te maak waar ek vandag is. Help my om vandag vir iemand sout en lig te wees. Amen.