Psalm 139:1-2
“Here, U sien dwarsdeur my,
U ken my.
Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit,
U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.”
Om oor te gesels of dink:
Die Hebreeuse woord wat ons in hierdie teks vertaal met ‘ken’ verwys na ‘n intieme ken van iemand. Hierdie Psalmskrywer is diep bewus daarvan dat God hom innig ken. God weet wat hy doen en dink. God is teenwoordig en naby. Hoe laat dit jou voel om weer opnuut te hoor dat God jou ken? Soms vergeet ons dat God ook deur ons geken wil word – in verhouding. Die uitdaging is om in ons verhouding met God ook weerloos, rou en eerlik te wees.
Neem ‘n oomblik van stilte
Wat sal jy graag vandag wil hê moet God van jou weet? Jy kan weerloos, rou en eerlik met God wees. Dit is deel van wat dit beteken om geken te word en iemand anders te ken – ook met God!
Gebed
Here, weerloosheid is vir ons moeilik. Selfs in ons verhouding met U. Help my om opnuut weer te besef dat ek in elk geval niks van U kan wegsteek nie. Ek kan weerloos, rou en eerlik myself by U wees. Amen.