Matteus 11:28-30
28 “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29 Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30 My juk is sag en my las is lig.”
Wanneer laas het jy vir Jesus hoor praat? Wanneer laas het jy gehoor hoe Jesus jou nooi na iets meer, dieper en intiem?
In hierdie teksgedeelte nooi Jesus ons elkeen na rus, en na iets wat sag en lig is. Te midde van ons besige en soms oorweldigende alledaagse lewens klink dit hemels!
Hierdie teksgedeelte is uniek in die sin dat dit net in Matteus voorkom. Dit is ook Jesus se mees persoonlike en sagste uitnodiging om Hom te volg wat ons in ons vier evangelies (Matteus, Markus, Lukas, Johannes) kry.
Vers 28 en 29 het beide ’n uitnodiging en ’n belofte (kyk weer mooi na die gedeelte) en vers 30 gee nog verdere rede waarom ons hierdie uitnodiging moet aanvaar.
Deur die loop van die week gaan ons in diepte na elke vers kyk en daaroor reflekteer. Lees gerus die gedeelte nog een keer, stadig en gefokus.
’n Eenvoudige gebed vir jou dag:
Here Jesus, dankie vir U uitnodiging. Ek kom.
“I found that only when I rest in Jesus' finished work for me can I really rest from my earthly work even for a moment.” Tim Keller