Filippense 4:10-11
10 Ek was baie bly in die Here dat julle na so 'n lang tyd weer gewys het dat julle nog aan my dink. Nie dat julle my ooit vergeet het nie, julle het net nie die kans gehad om iets te doen nie. 11 Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp. 12 Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly.
Om oor te gesels en dink:
Paulus skryf uit sy hart aan die gemeente vir wie hy baie lief was. Hulle het vir hom omgegee en gesorg. Nou verklaar hy dat hy dankbaar is dat hulle aan hom gedink het. Hy sê dat hy die geheim ontdek het om tevrede te wees, wat ook al sy omstandighede. Die woord “behelp” is ’n vreemde vertaling, maar beteken om tevrede te wees, al is dit minder as wat jy verwag het. Teleurstelling is soms dat ons nie gekry het, soos ons dit wou gehad het nie.
Ons kan so maklik fokus op dit wat ons nie het nie of nog moet kry, dat ons dit mis om tevrede te wees met wat ons wel het.
Gebed
Here God, U is die Een wat altyd voorsien. Ek mis dit soms en is dan ontevrede oor my omstandighede. Help my om vrede te vind, sodat ek tevrede kan lewe. Leer my die geheim om in afhanklikheid van U te lewe.
Amen.