Johannes 1:35-39
Die volgende dag het Johannes weer daar gestaan, met twee van sy volgelinge by hom. Toe Jesus verbyloop, het Johannes stip na Hom gekyk en gesê: “Dáár is die Lam van God!” Die twee het hom dit hoor sê en hulle het Jesus gevolg. Toe Jesus omkyk en sien dat hulle Hom volg, vra Hy vir hulle: “Wat soek julle?” en hulle het Hom geantwoord: “Rabbi” – dit beteken leermeester – “waar gaan U tuis?” Hy sê toe vir hulle: “Kom saam, dan sal julle sien.”
Om oor te gesels of te dink:
In die teks begin twee volgelinge Jesus letterlik volg. Jesus vra hulle 'n vreemde vraag: "Wat soek julle?" Nie die reaksie wat 'n mens sou verwag nie. In 'n mate word hul verwagting getoets. Hoekom wil hulle Jesus volg? Wat sou jou rou en eerlike antwoord vandag gewees het op dieselfde vraag? "Wat soek jy?"
Neem 'n oomblik van stilte.
Het jou redes waarom jy Jesus volg oor die jare verander? Hoekom dink jy so?
In hierdie teks is hulle antwoord weer 'n teenvraag - "Waar gaan U tuis?". Interessante rede, maar dit was ook gepas, want dit lei tot Jesus se uitnodiging om te kom kyk waar Hy bly. 'n Uitnodiging om nader te kom en meer van Jesus te leer.
Kan jy vandag jou verwagtinge, begeertes en alles wat jy dink jy van Jesus nodig het, opsy skuif en vir Jesus sê jy wil Hom van nader leer ken.
Gebed
Here, ek wil graag sien waar U aan die werk is. Lei my hart en gedagtes daarheen vandag. Heilige Gees, mag ek vandag verras word om te ontdek waar U beweeg. Help my om te beweeg in navolging en as volgeling. En Jesus, ek wil graag sien, ek wil kom kyk waar U wandel. In U naam alleen. Amen