Maandag, 7 Junie

Die mens is goed – geskep in God se beeld.

Genesis 1:27-31
27God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.
28 Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.”
29 Verder het God gesê: “Let op! Ek gee aan julle al die plante wat saad gee op die hele aarde; ook al die bome wat vrugte dra en saad gee. Dit sal julle kos wees. 30 Maar aan die wilde diere op die aarde en aan die voëls in die lug en aan die diere wat op die aarde kruip, aan alles wat leef, gee Ek al die groen plante as kos.” So het dit gebeur.
31 Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die sesde dag.

Om oor te gesels of te dink:

  • Dit is eers op die sesde dag van skepping, nadat God die mens in sy eie beeld geskep het dat God vir die eerste keer sê iets is baie goed. Waarom dink jy is die mens goed?
  • God het die mens wat Hy baie goed gemaak het geseën en ‘n geleentheid gegee om na Sy skepping om te sien. Dit wys op nog ‘n manier dat die mens spesiaal is en anders is as die res van Sy skepping. Daar is verhouding en intimiteit. Daar is vertroue en liefde. Hoe sou jy gesonde en God geskape verhouding en intimiteit beskryf? Hoe sou jy gesonde en God geskape vertroue en liefde beskryf?
  • Is dit vir jou maklik of moeilik om aan die mens te dink as goed? Is dit vir jou moeilik of maklik om aan die tipe verhouding te dink wat ‘n Goeie God met so ‘n mens sou hê? Waarom? Deel jou hart met die Here?

Gebed:
Liewe Heer,
Ek weet nie wie of wat vandag my pad sal kruis nie. Maar ek weet wel dat U my rots en my vesting is. U is my skild en my sterk toring. Help my om myself vandag aan U te anker. Leer my hoe om sterk in U te staan en vandag net U manier te kies. Help my om in U waarheid te wandel en nie in my eie gevoelens nie. Help my om alles wat oor my pad kom, te omhels as 'n geleentheid om U handewerk te sien en as 'n geleentheid om ander na U te wys. Dankie dat U my liefhet en niks ooit U liefde van my kan wegneem nie! Selfs as ek vandag misluk en tekort skiet, fluister U, U onvoorwaardelike liefde diep in my siel en herinner my daaraan dat U genade elke oggend nuut is. Dit verbaas my regtig, Here. Dankie dat U vandag met my ontmoet het. Sou U my môre weer wakker maak met dieselfde lieflike fluistering van U liefde? Ek kan nie wag om weer met U te ontmoet nie.
In Jesus se naam,
Amen.

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika