Matteus 6:9-13
10 laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.
Waarom moet God se koninkryk kom? Waarom het God se mense in Jesus se tyd verwag dat God se koninkryk moet kom? Wel, omdat regeerders en konings deur die eeue met voete van klei regeer het. Dit is vandag nog so.
Deuteronomium 17:14-20 beskryf die werk, wese en karakter van ’n aardse koning, nog voordat God se mense hulle eerste amptelike koning ingehuldig het.
Hoewel God se mense en elke koning wat in die geskiedenis van die Bybel regeer het geweet het wat Hy van ’n koning verwag, was daar eenvoudig net nie so koning nie.
Mag, rykdom, politiek, trots, selfsug en status het elke koning in die Bybel gepotjie. Selfs toe iemand uit God se volk nie meer Sy mense regeer het nie en die Griekse en die Romeinse ryke gevestig is, het hulle regeerders presies dieselfde gedoen, trouens, die onderdrukking en magspel was selfs erger vir God se mense.
Was dit God se doel met die geskiedenis? Beslis nie. Die profete van die Ou Testament en die Apostels in die Nuwe Testament sien ’n toekoms waarin God self regeer, op ’n totaal ander manier as enige aardse koning.
Onder God se heerskappy floreer mense, is daar genoeg vir almal, leef almal in vrede met mekaar en met Hom, en is die mens weer naby aan sy Skepper.
Met die koms van Jesus het hierdie koninkryk begin deurbreek, gaan lees gerus weer Matteus 3:2, 4:17 en 23. Dis goeie nuus! Daarom leer Jesus ons om hierdie sin te bid!
Om oor te dink:
“God's Kingdom is "present in its beginnings, but still future in its fullness. In this stage, we embrace the reality that while we're not yet what we will be, we're also no longer what we used to be.” Tim Keller