Lukas 12:13-15
“Iemand uit die menigte sê toe vir Jesus: “Meneer, sê vir my broer hy moet die erfenis met my deel.” Maar Hy antwoord hom: “Man, wie het My as regter of deler vir julle aangestel?” Toe sê Hy vir hulle: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want 'n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.””
Om oor te gesels en te dink
Jesus is besig om wonderwerke te doen en gelykenisse te vertel, toe hy onderbreek word met die vraag dat Hy moet ingryp in ’n twis oor geld. Jesus antwoord dat Hy nie gaan doen wat die man vra nie, maar dat mens moet op pas vir gierigheid. Die mense se liefde vir geld het hulle verblind om te dink dat dit hulle gelukkig sou maak. Jesus sê dan juis dat ons geluk in die lewe nie afhanklik is van ons hoeveelheid besittings nie. Ons mag geld en besittings hê, maar dit kan nie al wees wat ons het nie. Ons bankbalans kan nie ons geluk bepaal nie. Die wêreld om ons wil probeer oortuig dat ons net gelukkig kan wees as ons baie besittings het.
Jesus gee die regte perspektief. Ware geluk is net by Hom te vind. Ons moet in afhanklikheid van God Hom vertrou vir wat ons het en daarmee doen wat Hy van ons vra. Laat ons fokus om in dankbaarheid te leef en op dit wat ons het, as om te fokus op dit wat ons nie het nie of nog nie het nie.
Gebed
Here Jesus, dankie dat U sorg. Ek wil in afhanklikheid van U leef. Ek wil werklik gelukkig wees deur U met my lewe te vertrou. Amen.