Jesaja 7:14
“Die Here sal daarom self vir julle ‘n teken gee: ‘n Jong vrou sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem.”
Om oor te gesels en dink
Ons is in Adventstyd waar ons wagtend is op die koms van Jesus. Dit vra van ons as gelowiges om bewustelik na te dink oor die Here wat ons aanbid. Ons vier nie Kersfees oor die geskenke nie, maar omdat God Homself as geskenk vir ons gegee het. Hy het gekies om mens te word en onder ons te kom woon. Die hele wêreld het verander toe God besluit het om na ons toe te kom. Dit is uniek aan ons geloof: God wat in genade uitreik na ons, sonder dat ons dit verdien. Hy word Immanuel – God by ons.
Dit is nie meer net ’n teken soos in die tyd van koning Agas nie, maar het ’n werklikheid vir elkeen van ons geword.
God is nie meer ver nie, maar so naby aan ons. Elke keer as ons Sy naam aanroep met Immanuel, kan ons weet dat God by ons is.
Gebed
Jesus, U is Immanuel, God by ons en met ons. Dankie dat U gekies het om mens te word. Ons sien met verwagting uit om dit te vier en ons wag op U. Dankie dat hier by my is. Amen.