Johannes 1:50-51
Daarop sê Jesus vir hom: “Glo jy omdat Ek vir jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom gesien het? Jy sal nog groter dinge as dit sien.” Verder sê Jesus vir hom: “Dit verseker Ek julle: Julle sal die hemel oop sien en julle sal die engele van God sien op- en afklim na die Seun van die mens toe.”
Om oor te gesels en dink:
Jesus verseker sy dissipels dat hul nog groter dinge sal sien! Dat ons God op maniere sal sien en hoor wat ander dalk nie doen nie. Dit is 'n nuwe pad van dissipelskap waarop ons genooi word. Kan jy Hom raaksien? Raak hoor?
Neem ‘n oomblik van stilte.
In geloof sal ons God raaksien en raakhoor. Ons sal bewus word van God se teenwoordigheid by ons. Hierdie is nie iets gering nie. Nee, om van God se teenwoordigheid bewus te word is groot dinge! En om dit met ander te deel, nes hierdie dissipels waarvan ons gelees het in Johannes 1, is om hul te nooi om hierdie pad van dissipelskap te kom kyk!
Gebed
Here, soms twyfel ek oor wat ek sien en hoor. Of ek U sien en hoor. Maar in geloof hoor ek U raak, sien ek U raak. Heilige Gees, dankie dat U ook met my werk. Gebruik my sodat ander ook kan kom kyk! Amen.