Job 1:8-22
_ 8Die Here vra toe vir die Satan: “En my dienaar Job, het jy hom raakgesien? Sy gelyke kry jy nie op aarde nie: hy is vroom en opreg, hy dien My en vermy die kwaad.” 9Toe antwoord die Satan die Here: “Dit is nie sonder rede dat Job U dien nie! 10U beskerm hom dan, en sy huis en al sy goed. U maak alles wat hy doen, voorspoedig. Selfs sy vee teel vinnig aan. 11Maar raak nou net aan sy besittings en kyk of hy U nie in u gesig vervloek nie.” 12Toe sê die Here vir die Satan: “Alles wat hy het, gee Ek in jou mag oor. Net aan hom self mag jy nie raak nie.” Die Satan het daarna van die Here af weggegaan. 13En eendag, toe Job se seuns en dogters besig was om te eet en wyn te drink in hulle oudste broer se huis, 14kom 'n boodskapper by Job met die nuus: “Die osse was aan die ploeg, en die donkies het langsaan gewei. 15Toe oorval mense uit Skeba ons en hulle roof alles en maak die slawe dood. Net ek het weggekom om dit vir u te vertel.” 16Hy was nog aan die praat, toe kom daar nog een met die nuus: “Weerlig het die kleinvee en hulle wagters doodgeslaan en verbrand. Net ek het weggekom om dit vir u te vertel.” 17Hy was nog aan die praat, toe kom daar nog een met die nuus: “Drie groepe Galdeërs het die kamele geroof en is daarmee weg nadat hulle die slawe doodgemaak het. Net ek het weggekom om dit vir u te vertel.” 18Hy was nog aan die praat, toe kom daar nog een met die nuus: “U seuns en dogters was besig om te eet en wyn te drink in die huis van hulle oudste broer. 19Meteens het daar 'n sterk wind van die woestyn se kant af opgekom en die huis van al vier kante af op u kinders omgewaai. Almal is dood. Net ek het weggekom om dit vir u te vertel.” 20Toe het Job opgestaan en sy klere geskeur. Hy het ook sy hare afgeskeer. Daarna het hy op die grond gaan lê en gesê: 21“Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here.” 22Onder alles het Job nie gesondig of God iets verwyt nie._
Om oor te gesels of te dink:
Gebed:
God gee my die kalmte van gemoed
om die dinge te aanvaar wat ek nie kan verander nie;
moed om die dinge te verander wat ek kan;
en wysheid om die verskil te ken.
Help my om net een dag op ‘n slag te lewe;
om een oomblik op 'n slag te geniet;
om te aanvaar dat swaarkry deel is van die pad na vrede;
om soos Jesus, hierdie sondige wêreld te neem soos dit is, nie soos ek dit wil hê nie;
om te vertrou dat U alles sal regmaak
as ek my aan U Wil oorgee;
en dat ek redelik gelukkig kan wees in hierdie lewe
en uiters gelukkig met U kan wees vir ewig in die volgende.
Amen.