Kolossense 1:9-1
9Daarom, van die dag af dat ons van julle gehoor het, hou ons ook nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken, 10sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God. 11Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard. 12Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig. 13Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet. 14Deur die Seun het ons die verlossing verkry, die vergewing van ons sondes.
Om oor te gesels of te dink:
- Waterskeidings Momente is stil, gewone, ordinêre momente. Hulle gebeur daagliks net waar jy is. Dit is elke gedagtes, keuse, woord en handeling. Dit veroorsaak dat jy of vanuit jou verhouding met Christus optree of nie. Elke gedagte, keuse, woord en handeling wat Christus ontken tel op en word ‘n rivier wat sterk loop en lewens verwoes. Elke gedagte, keuse, woord en handeling wat Christus erken en eer word ‘n magtige rivier wat vrug dra en van Christus getuig.
- Hoe lyk jou gedagtes, keuses, woorde en handelinge? Is Christus die Waterskeidings Moment in jou lewe? Is jou verhouding met Hom besig om jou lewe te definieer? Hoe transformeer jou verhouding met Christus jou alledaagse lewe? Deel jou hart met die Here.
- Die waterskeiding wat hier in Pretoria en die res van die Magalies Berge plaasvind, veroorsaak die magtige Oranje- en Limpopo riviere. Die Augrabies waterval is ‘n sigbare beeld van hoe elke druppel water van die Waterskeiding lei tot riviere wat bydra tot ‘n asemrowende sig.
- Wat is die vrug van ‘n lewe wat Christus elke dag ontdek en leef? Hoe sou dit lyk? Is jou lewe ook so ‘n asemrowende voorbeeld van die groei, vrug en getroue leef van elke ordinêre Waterskeidings Moment? Hoe sou die mense in jou lewe, hierdie vraag beantwoord? Deel jou hart met die Here.
Gebed:
Here van my lewe,
Ek vra dat U my help om getrou te wees in elke oomblik van elke dag. Mag my verhouding met Christus lei tot ‘n asemrowende waterval van seën in ander se lewens. Mag daar asb. geen twyfel wees oor die feit dat ek daagliks, elke moment kies om U meer te ontdek en leef nie.
Amen.