Lukas 17:3-5
“Wees dus self op julle hoede. “As jou broer verkeerd optree, berispe hom; en as hy berou kry, vergewe hom. Selfs as hy sewe maal op ‘n dag verkeerd optree teen jou en sewe maal na jou toe terugkom en sê: ‘Ek is jammer,’ moet jy hom vergewe.” Die apostels sê toe vir die Here: “Gee ons meer geloof.””
Om oor te gesels en te dink
Ons het hierdie week by tekste stil gestaan om ligter te reis en uit dankbaarheid te dink oor ons besittings. Soms reis ons swaar omdat ons sukkel om te vergewe. As gelowiges word ons opgeroep om te vergewe. Jesus sê vir sy dissipels dat daar nie voorwaardes kan wees nie. Die dissipels vra dadelik meer geloof daarvoor. Dit is verseker nie maklik om die pad van vergifnis te stap nie, maar dit is nodig dat ons die proses begin.
As jy swaar dra, bid en vra die Here vir geloof om die pad van vergifnis te stap. Dit lyk vir elkeen van ons anders, maar dit is noodsaaklik dat ons as gelowiges hierdie pad stap. So kan ons ligter leef omdat ons in die Lig leef.
Gebed
Here, ek dra soms onnodig swaar. Help my om te kan vergewe. Help my as my geloof te min is. Ek wil in U Lig bly leef. Amen.