Saterdag 15 Januarie

Markus 2:13-17
_ 13Jesus het weer na die see toe gegaan. 'n Hele menigte mense het na Hom toe gekom, en Hy het hulle geleer. 14Toe Hy by die tolhuis verbygaan, sien Hy vir Levi seun van Alfeus daar sit, en Hy sê vir hom: “Volg My!” Levi het opgestaan en Hom gevolg. 15Daarna het Jesus in Levi se huis gaan eet. Baie tollenaars en sondaars was saam met Hom en sy dissipels aan tafel, want daar was baie van hulle wat Hom gereeld gevolg het. 16Toe die skrifgeleerdes onder die Fariseërs sien dat Hy saam met sondaars en tollenaars eet, het hulle vir sy dissipels gesê: “Waarom eet hy saam met tollenaars en sondaars?” 17Jesus het dit gehoor en Hy sê vir hulle: “Dié wat gesond is, het nie 'n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.”_

Om oor te gesels of te dink:

  • Jesus is baie gemaklik by mense van wie die wêreld nie hou nie. Hy is nie bang om tyd saam met hulle te spandeer nie. Is daar mense in jou wêreld wat jy moeilik vind om van te hou? Hoe laat dit jou voel om te weet dat Jesus van hulle sou hou en by hulle tyd sou spandeer? Hoe kan jy, met gesonde grense, tyd maak vir hierdie mense? Vra dat die Here vir jou wysheid gee en hier lei.
  • Watter dele van jouself hou jy nie baie van nie? Hoe laat dit jou voel om te weet dat Jesus maklik met daardie dele ook sou wou tyd spandeer? Deel jou hart met die Here.

Gebed:
Here, dankie dat U ‘n hart het vir die wat nie gewild is in die oë van die samelewing nie. Dankie dat U ook ‘n hart het vir my.
Here, daar is soveel waarmee ek steeds sukkel in die manier waarop ek U volg. Daar is soveel waarmee ek sukkel wanneer ek die wêreld en mense om my nader.
Here, help my asseblief.
Amen.

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika