Saterdag, 22 Mei

Wat doen die Gees in ons stilte?

Handelinge 2:14-21
Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op en onder leiding van die Heilige Gees spreek hy die mense toe: “Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, ek moet vir julle verduidelik wat gebeur het. Luister na wat ek gaan sê: Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar nege-uur in die môre. Nee, hier gebeur wat God deur die profeet Joël gesê het: “Só sal dit in die laaste dae wees, sê God: Ek sal my Gees uitstort op alle mense: julle seuns en julle dogters sal as profete optree; julle jongmense sal gesigte sien; julle oumense sal drome droom. Ja, op my dienaars en my dienaresse sal Ek in daardie dae my Gees uitstort, en hulle sal as profete optree. Ek sal tekens bo in die lug en wonders onder op die aarde gee: bloed en vuur en rookwolke. Die son sal pikdonker word en die maan bloedrooi voordat die groot en glorieryke dag van die Here kom. So sal dit dan wees: elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.

Om oor te gesels of te dink:

  • Het jy al ooit gevoel asof die Here stil is? Hoe voel dit? As die Here stil is, is die stilte ‘n vriend of ‘n vyand?
  • Die wêreld om ons is geneig om baie te raas. Dit is baie maklik om omring te wees met klank heeldag lank. Stemme, radio, musiek, TV, selfone, diere, motors, vliegtuie, ens. Waar beleef jy stilte deur die dag?
  • Wanneer die Gees alles wat raas binne in jou kom stilmaak, hoe voel daardie stilte? Is die stilte dan ‘n vriend of ‘n vyand? Wat wil die Gees in die stilte vir jou sê?
  • Wat wil jy vandag vir die Gees vra? Wat wil die Gees in jou doen?

Gebed:
Heer van my lewe,
Ek wil hê wat U wil hê, Here.
Ek vra vir U leiding in totale vertroue en geloof dat U my help.
Here, ek weet niks waarvoor U my roep, is te veel vir my nie.
Here, ek vra dat U die bekommernisse en vrese sal stilmaak.
Here, help my spasie te maak in my lewe, sodat U my helper is in al my werk en omstandighede. Help my om alles aan te pak tot eer van U naam.
Here, help my om elke aksie en gedagte te meet aan U wil.
Here, help my dat ek nie vinnige oplossings en versoeking neem nie.
Here, ek het vertroue daarin dat as ek U wil soek, dat die uitkoms reeds in U hande is.
Daarom Here, vra ek dat ek my lewe lei, met die wete dat ek U wil in alles soek.
Amen

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika