Saterdag 24 April

Johannes 21:19-22

Johannes 21 Jesus help sy volgelinge om baie vis te vang.

“Kom saam met My,” sê Jesus toe vir Petrus. Toe Petrus omkyk, sien hy die volgeling van wie Jesus baie gehou het, kom ook agter hulle aangestap. (Dit was die dissipel wat aan tafel vir Jesus gevra het wie Hom sou verraai.) Petrus sê toe vir Jesus: “En wat van hom, Here?” “Dit het eintlik niks met jou te doen nie, Petrus, selfs al sou Ek wou hê dat hy moes bly lewe tot Ek weer kom. Moenie jou oor sulke dinge bekommer nie. Sorg net dat jy by My bly!” sê Jesus.

God roep jou persoonlik!
Die wonder van die groot visvangs gebeur met 'n klomp mense. Al die dissipels ervaar dit. Jesus gee kos vir almal. En Jesus vra dat almal 'n bydrae moet lewer. En tog is dit baie persoonlik. As Jesus met Petrus praat dan is dit asof die ander nie eers daar is nie. Hy praat diep en intens met Petrus. Ons ervaar ook soms God se wondergenade in dinge waar ander ook betrokke is. Tog maak dit nie die ervaring minder persoonlik of spesiaal nie. Petrus voel dat as God hom roep om Hom te volg, dit vir die ander dissipels ook moet geld … Wat van Johannes Here?
En dan herbevestig Jesus dat Hy persoonlik met elkeen op Sy eie manier werk. Petrus moenie jou oor Johannes bekommer, volg jy My maar net! Ons wil ook soms baie vrae vra oor ander mense asof dit God se opdrag aan my sou beïnvloed. Hy sê ook vir my en jou om ons nie oor ander te kommer, maar om Hom maar net te volg en die res vir Hom te los. Doen jou deel en los die res vir My. Kom ons gehoorsaam Hom ook as Hy ons roep om Hom te volg. Laat ons maar weet Hy kan ook in ons lewe wonders doen en van ons bruikbare diensknegte maak.

Om oor te dink:

  • God doen steeds wonders in jou lewe… sien jy God en die wonders raak?
  • Hy wil deur Sy wonders persoonlik vir jou roep om Hom te volg, maak nie saak wat ander doen nie.
  • Wat is jou antwoord hierop?

Gebed
Dankie Heer dat U steeds uitreik na my elke dag
Help my om U raak te sien en U roepstem te hoor.
Hoor my as ek vandag weer opnuut kies om U te volg!
Amen

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika