Saterdag 25 September

Deuteronomium 31:6
6Hou moed en wees dapper! Moenie bang wees nie, moenie vir hulle skrik nie, want die Here julle God gaan saam met julle. Hy sal julle nie in die steek laat nie, julle nie alleen laat nie.”

Klaagliedere 3:21-23
21Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: 22deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, 23dit is elke môre nuut. U trou is groot.

Om oor te gesels of te dink:

  • In hoofstuk 5 van Klaagliedere is ‘n gemeenskapsleier aan die woord. Hy kla en begrawe HOOP so saam met die individu, die vrou, die priester en die besigheidsman waarvan ons al gelees het. Die gemeenskapsleier kyk na sy gemeenskap en sy HOOP is verlore. Alles wat vir hom bekend was en waarvoor hy lief was is verlore. Niks is meer dieselfde nie. Daar is niks meer oor van Jerusalem waarvoor hy lief was nie. Soms kan ons dalk ook na ons omgewing, ons gemeenskap, ons tye kyk en dink alles is verlore. Niks is soos ons dit onthou of hoe ons dit wil hê nie. Ons wil so graag die sekerheid hê van wat bekend was. Die ideale prentjie in ons kop van wat bekend en veilig was. Wanneer die realiteit nie so is nie, is teleurstellend en ons vra hoe kon God ons in hierdie situasie gelos het?
  • Waarop fokus jy tans die meeste? Die probleme van jou gemeenskap om jou? Of fokus jy die meeste om God raak te sien in die gemeenskap om jou? As jou beste vriend of familie hierdie vraag namens jou sou moes antwoord, sou hulle saam met jou stem? Deel jou hart met die Here.
  • Hoe kan die gedagte dat Gd ons ooit los nie, ons prentjie van wat ons om ons sien verander? Waarom sou dit ‘n verskil maak? As die Here die heeltyd by jou ook is, hoe sou jou ervaring van hoop verander?
  • Klaagliedere herinner ons dat God alles nuut maak. Elke dag. Maar ook elke hart. Het jy nodig om die Here te vra dat jy meer bewus word van waar God reeds teenwoordig en werksaam is? Hoe kan jy jouself vandag herinner om God vandag oral om jou te soek?

Gebed:
Goeie more, Here van my lewe!
Vandag is ‘n nuwe dag, ‘n kans vir ‘n nuwe begin. Gister is verby en daarmee saam enige foute, mislukkings of dinge waaroor ek moontlik spyt is.
Dis ‘n goeie dag om dankbaar te wees, en ek is dankbaar, Here.
Dankie vir vandag, ‘n nuwe geleentheid om lief te hê, te gee en om alles te wees wat U wil hê ek moet wees.
Ek wil my dag begin met U in my gedagtes en in my hart.
Soos ek besig is om aan te trek, trek asseblief vir my die wapenrusting aan wat U elke dag aan my voorsien: die helm van Verlossing, die borsharnas van vryspraak, die skild van Geloof, die gordel van Waarheid, die skoene van Bereidheid om die evangelie te verkondig en die swaard van die Gees.
Gee my vandag my daaglikse Brood – omdat hierdie Brood van die Lewe, U voedsel soos manna, my sal versterk teen enige aanslae.
Help my om my gedagtes op U te rig en slegs woorde te spreek wat ander kan help en bemoedig.
Help my om te dink voordat ek praat en dat ek die begeertes van my hart opsy sal sit. Help my om te streef na uitstekende werk, in plaas van perfekte werk – dat ek nie probeer om “naam te maak” nie, maar eerder om ‘n verskil te maak.
Help my om almal met wie ek in aanraking kom, te behandel soos U hul sou behandel – met respek en liefde en vergifnis.
Help my ook om self om vergifnis te vra indien nodig.
Herinner my aan die begin van hierdie dag, dat ek aan U behoort. Dit is my begeerte om ook so op te tree.
Hou my voete vas op die grond en verhoed my gedagtes om te dwaal, sodat ek nie kosbare tyd in beslag neem terwyl ek eintlik besig moet wees met die belangrike dinge wat U vir my beplan het.
Ek is trots daarop om U kind te wees, Here!
Ek is so dankbaar dat U vir my aan die kruis gesterf het – weer opgestaan het op U eie, nuwe dag – sodat elke dag daarna gevul kan wees met die wonder van U liefde, die vryheid van U Gees en die vreugde om U te kan ken.
Ek weet dat my lewe op aarde kort en vlietend is, Here, maar ek wil vandag leef asof dit die eerste of die laaste dag van my lewe is.
Here help my terselfdertyd dankbaar wees vir elke perfekte gawe wat U gekies het om vir my te gee.
Vandag, en elke dag, wil ek my lewe aan U wy, Jesus. In U kosbare Naam.
Amen. (Rebecca Barlow Jordan)

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika