Saterdag 26 Desember

Matteus 11:2-6
Johannes het in die tronk gehoor wat Christus alles gedoen het, en het toe deur sy volgelinge 'n boodskap aan Hom gestuur om te vra: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?”  Jesus antwoord hulle: “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien: Blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, en aan armes word die evangelie verkondig. En gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie.”

Om oor te gesels:

  • Het jou omstandighede jou al ooit laat twyfel of Jesus die antwoord is op alles in jou lewe? Watter omstandighede is daar tans wat jou laat twyfel?
  • Jesus probeer nie oortuig nie, maar wys na al die wonderwerke wat hy reeds besig is om uit te voer. Is daar wonderwerke in jou lewe wat terugwys na Jesus? Dink aan die kleinste wonders in jou dag!
  • Wanneer omstandighede jou oorweldig, hoe kan jy eerder meer staatmaak op die Here in daardie omstandighede?

Gebed:
Here van my lewe,
Na al die feesvieringe en besig wees van Kersfees, staan ek stil en wonder waaroor alles werklik gaan. Waaroor al die voorbereidings en harde werk gegaan het. En ek besef dat ek dalk my fokus bietjie verloor het.
Here, ek het meer op self, familie en die liggies van Kersfees gefokus. Ek het meer op die probleme, spanning en bekommernisse wat steeds teenwoordig is gefokus. En dan wonder ek of U steeds die oplossing op alles in my lewe is.
Here, ek is jammer. Ek is skuldig. Ek vra vergifnis. Here, help my ongeloof. Here, help my fokus. Here, help my. Ek weet ek is 'n mens met soveel tekortkominge. Here, sal U asb elke tekortkoming gebruik om U naam groot te maak en aan te vul sodat ek meer op U vertrou.
Dankie Here dat U steeds dié een is. Dankie dat U steeds werklik die Here van my lewe is.
Amen

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika