Matteus 5:13-16
“Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry 'n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit. “Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek 'n mens nie 'n lamp op en sit dit onder 'n emmer nie maar op 'n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”
Om oor te gesels en dink:
Die werkwoorde in hierdie teksgedeelte is 'is'. Julle is sout. Julle is lig. 'n Lewe van dissipelskap is om meer en meer te ontdek wie jy in Christus is. Hierdie week het ons ontdek dat dit minder oor onsself gaan en altyd oor God se Koninkryk. Sout en lig het 'n verskil gemaak in mense se lewe in die tyd wat hierdie teks ontstaan het. En die teks eindig met 'dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheelik'. Dit gaan altyd oor God - selfs wanneer ons goeie werke doen.
Neem ‘n oomblik van stilte.
Doen jy baie keer 'goeie werke' sodat jy deur ander raakgesien kan word? Gierigheid is 'n ingesteldheid. ń Ingestelheid op God se Koninkryk, ń lewe van dissipelskap vra dat selfs wanneer ons 'gee' of 'goeie werke doen', dat dit ook nie sal gaan om die aandag op onsself te fokus nie. Hoe kan jy dit hierdie naweek toepas?
Gebed
Here, dankie dat ek hierdie week kon ontdek dat 'n lewe van dissipelskap minder op 'my' fokus en altyd op U. Ek besef vandag opnuut dat ek reeds 'is' wie U my gemaak het om te wees. Mag ek dit hierdie naweek meer en meer ontdek. Ek is 'n dissipel - gemaak en word gevorm vir U Koninkryk. Amen.