1 Johannes 1:1-4
1Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe. 2Die Lewe het gekom; ons het Hom gesien en is getuie daarvan, en ons verkondig aan julle die Ewige Lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is. 3Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan júlle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus. 4Dit skryf ons sodat ons blydskap volkome kan wees.
VRAE:
- Die skrywer van die brief herinner sy lesers op verskillende plekke van die waarheid. Wanneer mense die Goeie Nuus hoor, is daar dadelik Fopnuus wat hulle probeer oortuig waarom die Goeie Nuus nie vir hulle geld nie. Die skrywer bou op Jesus se woorde wat ook in die Johannes evangelie gebruik. Hy herinner die mense dat hulle deur God gelief is. Hy herinner hulle dat Jesus sy lewe vir hulle, sy vriende aflê. Hy herinner hulle dat God vir hulle in genade vergewe. Hy herinner hulle dat hulle nou vry is en herstel is in verhouding. Hy herinner hulle aan al die waarhede.
- Watter leuens kom na vore wanneer jy gekonfronteer word met genade, vergifnis, verlossing en liefde? Wat maak dit moeilik om hierdie genade, vergifnis, verlossing en liefde net te ontvang? Wat is die stories wat in jou eie gedagtes loop? Deel jou hart met die Here.
- Mense teenoor wie ons getuig gaan ook ‘n klomp fopnuus glo. Hulle is te sondig. Hulle is te ver verlore. Hulle is nie goed genoeg nie. God sal hulle nie kan liefhê nie. Hulle moet eers alles regmaak voordat hulle dit kan ontvang. Hulle moet eers heeltemal verander voordat hulle werklik vry kan wees. Hoe help die Goeie Nuus ons, om mense se fopnuus stil te maak? Deel jou hart met die Here.
Gebed:
Here, dankie dat U Goeie Nuus genoeg is. Here, help ons om nie toe te laat dat die fopnuus wat die vyand in ons wakker maak, ons van U weghou nie. Here, help ons om mense te herinner dat dit net leuens is. Here, help ons om dit stil te leef. Here, help ons om meer op die Goeie Nuus te vertrou, as wat ons luister na die fopnuus.
Amen